-->

Daling by petrolpomp kan kos goedkoper maak

Die rekord-daling van R1,23 per liter vir 95-oktaan-petrol en R1,27 per liter vir 93-oktaan-petrol wat van Woensdagoggend geld, kan verbruikers help om hul skuldlas te verlig en te begin spaar, meen Neil Roets, uitvoerende hoof van die skuldbestuursmaatskappy Debt Rescue.

Diesel met ’n swaelinhoud van 0,005% se groothandelprys daal met R1,05 per liter. Roets meen die aansienlike afname is eintlik belangriker as die daling in die petrolprys, want dit kan tot goedkoper verbruikersgoedere lei.

“As kleinhandelaars billik is en die besparings deurgee, kan dit tot goedkoper kos lei, wat alle verbruikers sal bevoordeel.”

Met werkloosheid op rekordvlakke en ’n verwagte ekonomiese groeikoers van minder as 2% sal verbruikers egter onder druk bly, sê Roets. “Sowat 75% van die netto inkomste van verbruikers moet tans nog aan krediteure oorbetaal word, wat baie min besteebare inkomste oorlaat.”

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, verwag nog petrolprysdalings as die rand-dollar-wisselkoers stabiel bly en die olieprys sy dalende tendens voortsit.

In kusstede soos Kaapstad, Mosselbaai en Port Elizabeth kos 95-oktaan-petrol van vanoggend tot 3 Februarie R10,83 per liter. In Gauteng kos dit R11,24. Vir ’n vol petroltenk van 50 liter betaal ’n motoris nou R61,50 minder. Petrol kos nou sowat 18% minder as ’n jaar gelede.

Need immediate financial help?

Thank you!

We look forward to the opportunity to get you debt-free!

Subscribe to Our Weekly Email