Hoër rente: Trek nóú gordel stywer

Gaan sit dadelik om ’n tafel met jou familielede en vriende en stem in dat julle nie vanjaar Kersgeskenke gaan koop nie.

Moenie buitensporig feesvier nie en moenie onnodige goed koop nie.

Gebruik jou bonus of enige bykomende inkomste om skuld te delg.

Dís die raad van Wendy Monk­ley, bemarkingshoof van die skuldberadingsfirma DebtBusters, nadat die Reserwebank Donderdag die repokoers met 0,25 persentasiepunt verhoog het.

Die prima rentekoers waarteen banke geld aan verbruikers leen, is nou 9,75%.

“Mense wat aanhou om hul leefstyl op skuld te finansier, is op ’n glybaan na ’n finansiële ramp,” sê Ian Wason, uitvoerende hoof van DebtBusters.

Neil Roets, uitvoerende hoof van nog ’n skuldberadings­firma, Debt Rescue, sê armes gaan die hardste getref word deur die kombinasie van stygende kospryse en hoër rentekoerse.

Daar was egter ook lof vir Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, se dapper besluit. Peter Kent, portefeuljebestuurder by Investec Batebestuur, sê: “Hoe ongewild of pynlik dit ook is, glo ons die besluit is in die beste belang van die land en bemoedigend vir die effektemark, aangesien dit die bank se verbintenis toon om inflasieverwagtinge te anker.

“In tye van swak sentiment teenoor ontluikende markte, help geloofwaardige instellings aan die stuur van ons langtermyn- finansiële behoeftes baie om vertroue in te boesem.”

Kganyago het klem gelê daarop dat hy weet hoe traag die ekonomie groei. Die bank het sy groeiverwagting vir 2015 van 1,5% tot 1,4% verlaag en sy groeiverwagting vir 2016 is nou 1,5% (voorheen 1,6%). Hy verwag egter steeds dat Suid-Afrika in 2017 met 2,1% sal groei.

Kganyago is egter diep bekommerd oor die faktore wat inflasie kan opdruk en sê hy sal liewers nou die koers éffens verhoog as wat hy later meer aggressief moet reageer deur die koers skerp te verhoog.

Benewens stygende kospryse weens die droogte, is Eskom se nuwe aansoek by die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) dat R22,8 miljard se begrotingstekort deur tariefverhogings ingehaal word, ’n inflasierisiko.

Die bank het sy inflasieverwagting vir vanjaar effens aangepas tot 4,6%, terwyl die verwagte gemiddelde inflasie vir 2016 6% en vir 2017 5,8% is.

Weens die 0%-verhoging in hoër onderwys wat pres. Jacob Zuma vroeër vanjaar te midde van die #FeesMustFall-betogings aangekondig het, verwag die Reserwebank dat inflasie se boonste draaipunt in die eerste kwartaal van 2016 laer sal wees, op 6,4% eerder as die 6,7% wat vroeër voorspel is.

Die tydsberekening van die rentekoersverhoging is swak, “aangesien ’n stabiele koers sake- en verbruikersvertroue ’n hupstoot sou gee op ’n tydstip dat dit die nodigste is,” sê dr. Andrew Golding, uitvoerende hoof van die Pam Golding-eiendomsgroep. Hy reken egter nie dat dit ’n baie groot impak op die huismark sal hê nie.

Nicholas Nkosi, hoof van voertuig- en batefinansiering by Standard Bank, sê dié stap gaan ’n groot uitdaging vir verbruikers wees. Mense wat dit hoegenaamd oorweeg om nuwe motors te koop, moet “versigtig beplan – nie net vir die paaiement nie, maar vir alles wat in ag geneem word wanneer jy ’n nuwe motor koop, soos brandstof en instandhoudingskoste.”

Source: http://www.netwerk24.com/Sake/Geldsake/hoer-rente-trek-nou-gordel-stywer…

Like
Like Love Haha Wow Sad Angry

Thank you!

We look forward to the opportunity to get you debt-free!

Did you know?

You can start your application process already. Simply download your assessment or fill in our online application and get one step closer to becoming debt-free with Debt Rescue!

Subscribe to Our Weekly Email