-->

SA jonges is vrot van die skuld

Kaapstad. – Suid-Afrika se jong volwassenes (tussen 18 en 25 jaar oud) – veral studente – is in ’n “aaklige” posisie en het skuld wat hulle nie kan betaal nie.

Só sê Neil Roets, prokureur en uitvoerende hoof van die skuldberadingsmaatskappy Debt Rescue, in reaksie op ’n studie van Unisa en die studentebemarkingsorganisasie Student Village oor die geldelike posisie van jong volwassenes.

Dit het onder meer aan die lig gekom dat studente ’n kredietkaart kan kry as hulle kan bewys dat hulle ’n skrapse R200 per maand van hul ouers kry.

Meer as 1 200 studente van die universiteite van Kaapstad, Johannesburg, Stellenbosch en die Witwatersrand het aan die peiling deelgeneem.

Volgens Roets het die kantoor van die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) bevestig dat groot kommer oor die skuldvlakke van jong volwassenes bestaan.

Obed Tongoane, die NKR se bedryfshoof, sê lenings aan jongmense is toelaatbaar solank dit in ooreenstemming met die Nasionale Kredietwet gebeur.

“ ONS SYFERS TOON OOK DAT DIE JONGMENSE WAT IN DIE WARM WATER BELAND MET SKULD, AL HOE JONGER WORD. ”
– Obed Tongoane van die NKR
Volgens die NKR het 9,25 miljoen van die 19,6 miljoen kredietgebruikers ’n “benadeelde” kredietstatus. ’n Groot persentasie van dié verbruikers is jongmense tussen 18 en 25.

Volgens Roets is meer as 50% van jongmense oorbelas met skuld en sukkel hulle om hul skuld terug te betaal.

Die peiling het bevind dat studente se skuld in die afgelope drie jaar meer as verdubbel het. Altesame 43% van die studente wat deelgeneem het, het in 2012 met kredietkaarte gekoop, teenoor ’n skamele 9,5% in 2010.

“Die aantal jong verbruikers wat by ons om skuldberading aansoek doen, het in die afgelope jaar merkbaar toegeneem. Ons syfers toon ook dat die jongmense wat in die warm water beland met skuld, al hoe jonger word.”

Need immediate financial help?

Thank you!

We look forward to the opportunity to get you debt-free!

Subscribe to Our Weekly Email