Kaapstad – Al hoe meer hoe mense sukkel om hul skuld af te betaal te midde van onversekerde lenings wat die hoogte inskiet, het ‘n skuldbestuur-maatskappy gewaarsku.
Neil Roets, uitvoerende hoof van Debt Rescue, het gesê dit is veral jonger mense wat in die warm water beland.
Volgens die maatskappy het die aantal jongmense in die 18 tot 34-ouderdomsgroep, wat te veel skuld het, die afgelope jaar aansienlik gestyg.
Die aantal verbruikers wat maandeliks by die maatskappy aansoek doen om skuldhersiening het oor die afgelope ses maande byna verdubbel, het Roets gesê.
Sowat 9 miljoen verbruikers is minstens drie maande agterstallig op minstens een rekening, het die maatskappy gesê.
“Dit is ‘n algemene feit dat die helfte van kredietaktiewe verbruikers in Suid-Afrika swak kredietrekords het,” het Roets gesê.