Trump se sege is voorspel

DONALD Trump was die absurdste “grap-naam” waaraan ons kon dink.

Só het Matt Groening, skepper van die Amerikaanse TV-animasiereeks The Simpsons, vroeër vanjaar in ’n onderhoud met die Britse koerant The Guardian gesê.

Dit was in reaksie op ’n vraag oor ’n episode waarin 16 jaar gelede voorspel is Trump sal eendag die president van Amerika word.

Trump, die Republikeinse kandidaat, se presidentskap is gister bevestig nadat hy die Demokrate se Hillary Clinton verslaan het.

Die Amerikaners het Dinsdag na die stembus gegaan.

Trump se gemaklike oorwinning oor Clinton het as ’n skok gekom en finansiële markte wêreldwyd erg ontwrig.

News24 berig die meeste vooruitskattings het voorspel Clinton sal wen.

Webtuistes waarop weddenskappe geplaas kon word, het die odds vir ’n Clinton-oorwinning op 80% of meer geplaas.

Trump het gister gesê hy sien daarna uit om as president oor te neem.

“Ons gaan onmiddellik vir die mense van Amerika begin werk. Ons gaan ’n job doen en hopelik sal julle verskriklik trots op jul president wees.

“Dis vir my ’n eer – ek is lief vir die land,” het Trump verklaar.

Reeds voor die aankondiging van Trump se oorwinning was daar ’n negatiewe impak op wêreldwye finansiële markte.

Neil Roets, uitvoerende hoof van die SA skuld­bestuursfirma Debt Rescue, sê Trump se sege kan negatiewe nagevolge vir ons plaaslike verbruikers inhou.

Roets het verduidelik Trump bring onsekerheid na die amp van Amerikaanse president omdat niemand weet presies watter beleidsrigting hy gaan inslaan nie.

Roets sê: “Daar is niks wat die markte meer haat as on­sekerheid nie. Trump se sege sal ’n groot negatiewe impak op internasionale markte maak.

“Die Trump-sege sal ’n tydelike spike in die markte toon, maar dit sal deur ’n groot daling gevolg word.

“Ons kan net raai oor die rimpel-effek wat sy verkiesing op die wêreldekonomie sal maak. Maar niks hiervan help SA verbruikers wat sukkel met ’n groot skuldlas nie.”

Die ekonoom Tumisho Grater meen daar sal ’n groot fokus wees op Trump se beleidsagenda.

“Sy veldtog was nie baie spesifiek nie.

“Die Republikeine het beheer oor die kongres en senaat, maar dis steeds moeilik om te bepaal wat sy toekomstige beleid sal inhou,” verduidelik sy.

Fikile Mbalula, SA minister van sport, het gister getwiet Amerika is nou soos ’n groot Orania.

Intussen was Trump se verkiesing ook ’n oorwinning vir Chanakya II, ’n “psychic vis” in Indië.

Die vis het Dinsdag voorspel Trump sal wen nadat hy drie keer na drywende stokkies met foto’s van Trump geswem het.

Like
Like Love Haha Wow Sad Angry

Need immediate financial help?

Thank you!

We look forward to the opportunity to get you debt-free!

Subscribe to Our Weekly Email