Amnestie op jou kredietstatus is geen grap

Sowat 5,7 miljoen verbruikers kan bevoordeel word deur die kredietinligtingsamnestie wat op 1 April in werking tree.

Dit is volgens die jongste kredietburoverslag vir die kwartaal tot einde Desember se inligting wat toon sowat 5,7 miljoen verbruikers is op die sogenaamde “swartlys”.

Dit is verbruikers wat ’n hofbevel oor skuld op hul naam het of wie se kredietrekord negatiewe inligting toon soos dat stappe teen hulle gedoen moes word omdat hulle nie hul skuld betaal nie. Dit kan wees dat een of meer rekeninge afgeskryf moes word of aan skuldinvorderaars oorhandig word.

Daar is tans ’n halfmiljoen meer mense op die swartlys as einde 2012.

Van diegene op die swartlys het 3,1 miljoen negatiewe inligting op hul kredietrekords. Dit behels inligting soos dat die persoon ’n stadige betaler, wanbetaler, voortvlugtige debiteur of bloot onbereikbaar is.

Sowat 2,6?miljoen mense het ’n skuldbevel op hul kredietrekord gehad.

Dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, het onlangs in die parlement verwys daarna dat verbruikers op die “swartlys” by die kredietburo is. Die terminologie dateer van voor die nuwe Kredietwet.

Sake het vir Natasha Horwitz, die bestuurder van die Vereniging van Kredietburo’s, gevra of dit nog korrek is om dié woord te gebruik.

Sy het gesê ’n swartlys is nie die korrekte terminologie om deesdae na kredietburo-verslae te verwys nie omdat dit beteken net negatiewe inligting word gehou.

Suid-Afrikaanse kredietburo’s hou ’n kredietverslag by wat positiewe en negatiewe inligting oor iemand se kredietgedrag bevat. Maar, het sy gesê, as na swartlys verwys word, is dit “tipies verbruikers wat negatiewe inligting op hul kredietverslae het of ’n skuldbevel op hul naam het”.

Volgens die vereniging moet kredietburo’s op 1 April die negatiewe inligting van die mense se kredietrekords verwyder.

Inligting oor skuldbevele moet verwyder word sodra ’n bewys ontvang word dat dié betrokke skuld betaal is. Dit moet binne sewe dae van die bewyse ontvang is, verwyder word.

Horwitz het gesê die aantal mense wat bevoordeel word, sal afhang van die inligting soos dit op 1 April op kredietrekords lyk.

Volgens die Nasionale Skuldmediasievereniging word negatiewe inligting soos stadige betaler, wanbetaler, voortvlugtige debiteur of “nie bereikbaar” tans vir ’n jaar by die kredietburo’s op ’n verslag gehou.

Die negatiewe inligting wat verband hou met oorhandiging vir skuldinvordering, regstappe of afskrywing moet twee jaar op ’n persoon se rekord bly. ’n Vonnisbevel bly vyf jaar op ’n persoon se rekord.

Die nuwe Wetsontwerp op die Wysiging van die Kredietwet maak voorsiening daarvoor dat die inligting voortaan onmiddellik verwyder word sodra iemand betaal het, het Davies gesê.

Neil Roets, uitvoerende hoof van Debt Rescue, het gewaarsku verbruikers moet nie dink die verwydering van hul inligting met die kredietinligtingsamnestie beteken hulle hoef nie die skuld te betaal nie.

Need immediate financial help?

Thank you!

We look forward to the opportunity to get you debt-free!