Herroeping van dié vleis raak heel armstes ergste

Die herroeping van polonie en ander verwerkte vleisprodukte weens ‘n listeriose-uitbreking sal ‘n reuse-impak op die heel armste deel van die bevolking hê. Dit is omdat dié deel staatmaak op dié goedkoop bron van proteïene, sê Neil Roets, uitvoerende hoof van die skuld beradings groep Debt Rescue.

Volgens die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, het toetse deur die regering aangedui dat polonie onder die Enterprise-handelsmerk die bron van die listeriose-uitbreking is. Bykans 950 gevalle is aangemeld en 180 mense is dood.

“Produkte soos polonie, Russiese worsies en ander verwerkte vleis is verreweg die goedkoopste vorm van proteïene wat tans op die mark beskikbaar is,” sê Roets. Die meeste verbruikers het geen spaargeld wat rondlé om bykomende kruideniersware te koop nie. “Die meeste leef van die hand na die tand en selfs ‘n klein aanpassing, soos die verhoging in die BTW-koers, kan ‘n reuse-impak hê.

Goedkoop verwerkte vleis is die vernaamste bestanddeel in township-geregte soos sommige bunny chows en kotas (n gevulde kwart brood) en die feit dat dié bron van proteïene nie deur ander vleissoorte vervang kan word nie, gaan ‘n reuse-impak hê, sê Roets.

Enterprise Foods het reeds sy polonie en ander verwerkte vleisprodukte van winkelrakke verwyder nadat sy fabriek in Polokwane as die hoofbron van die wêreld se ergste uitbreking van listeriose geïdentifiseer is. Rainbow Chicken het ook sy polonies herroep nadat sy fabriek naby Sasolburg positief vir ‘n listeriastam getoets is.

Benewens die kouevleis en Weense en Russiese worsies wat onder dié handelsmerk verkoop word, word handelsmerke soos Bokkie, Renown, Lifestyle en Mielie-Kip geraak.

Pick n Pay en Woolworths het ook as ‘n voorsorgmaatreël van die produkte onder hul eie handelsmerke van hul rakke verwyder. In Pick n Pay se geval is van die produkte by Rainbow se fabriek naby Sasolburg vervaardig en in Woolworths se geval by Enterprise se fabriek in Polokwane.

“Ons verwelkom die feit dat verbruikers vergoed sal word vir die produkte wat herroep word, maar dit los steeds nie die onderliggende probleem op van waarmee die spazas en straatverkopers in die townships veronderstel is om die geprosesseerde vleis te vervang nie.

Hy sé alle ander vorme van vleis, soos maalvleis en selfs die goedkoopste beesvleissnitte, is heelwat duurder. “Die herroeping van die verwerkte vleis gaan ‘n impak op mense se inname van voedsame kos hê.

Die feit dat dié herroeping so kort op die verhoging in die BTW-koers asook ander verhogings volg, is ook ‘n terugslag vir verbruikers.

Meer as die helfte van alle Suid-Afrikaners is drie of meer maande agterstallig met hul skuldpaaiemente en om ‘n goedkoop stapelvoedsel met iets duurders te moet vervang, gaan daardie skuldlas net vererger,” sê Roets.

Need immediate financial help?

Thank you!

We look forward to the opportunity to get you debt-free!

Subscribe to Our Weekly Email