Petrolprys kan heelwat daal in Julie

Motoriste kan in Julie, betyds vir die wintervakansie, ’n skerp daling in petrolpryse verwag danksy die verrassende veerkrag van die rand en laer oliepryse.

Die onafhanklike ekonoom Dawie Roodt verwag petrolpryse kan met tussen 60c en 64c per liter daal, en diesel kan met sowat 60c per liter daal.

“Die rand het in die eerste deel van Junie grootliks stabiel gebly teenoor die Amerikaanse dollar, ondanks al die roesemoes wat ons politieke landskap teister,” sê Roodt.

Neil Roets, uitvoerende hoof van die skuldberadingsmaatskappy Debt Rescue, sê dit kan in Augustus weer ’n ander storie wees as internasionale kredietgraderingsagentskappe sou besluit om Suid-Afrika se randgedenomineerde skuld verder tot rommelstatus af te gradeer.

Dit kan volgens Roets ’n erg negatiewe impak op die rand hê, wat tot valuta-uitvloei kan lei en tot ’n hoër prys wat SuidAfrika vir olie sal moet betaal.

Die brandstofprysdalings in Julie moet volgens hom dus nie as ’n meevaller beskou word nie.

Wanneer brandstofpryse op 5 Julie aangepas word, sal dit gegrond word op die randwisselkoers en die internasionale brandstofpryse van 2 Junie tot 29 Junie.

Brent-ruoliepryse het sedert begin Junie van $50 tot so laag as $44,82 per vat gedaal. Dit het Maandag tot $46 per vat herstel.

Bloomberg-syfers wys die rand-dollar-wisselkoers het in dieselfde tyd rond en bont gespring, maar dit was darem meestal in ’n band tussen R12,70 en R12,90 teenoor die dollar, vergeleke met April en Mei toe die rand meestal bo R13 teenoor die dollar verhandel het, en so swak as R13,95 op 10 April was.

Die jongste syfers van die Sentrale Energiefonds se brandstofprys-eenheid wys die gemiddelde oorverhaling op petrol van 2 Junie tot 23 Junie was 67c vir petrol en 60c vir diesel.

Vrydag die 23ste Junie was die dag se oorverhaling 73c vir petrol en 68c vir diesel. As dié syfers vir die res van die week volgehou kan word, kan dit beteken petrol kan volgende week met 68c en groothandeldiesel met 61c per liter verlaag word.

Like
Like Love Haha Wow Sad Angry

Need immediate financial help?

Thank you!

We look forward to the opportunity to get you debt-free!

Subscribe to Our Weekly Email