-->

Só raak hoër rentekoers jou sak

Die rentekoers-skok van 0,5 persentasiepunt Donderdag is die eerste van vele vanjaar.

Die prima rentekoers is nou 10,25% nadat die Reserwebank Donderdagmiddag die rentekoers met 0,5 persentasiepunt verhoog het.

Ontleders verwag nóg rentekoersverhogings vanjaar vir ’n totaal van 1 persentasiepunt, asook ’n styging van 0,5 persentasiepunt in 2017, wat beteken dit is nog lank nie ál pyn vir verbruikers met skuld nie.

Samuel Seeff, voorsitter van die eiendomsgroep Seeff, sê egter die verhoging net vir 2016 kan tot 3 persentasiepunte wees, veral as Suid-Afrika se kredietgradering tot rommelstatus verlaag word.

Die raad is dus: Maak jou sitplekgordel vas, daar is ’n stamperige rit voor.

Huisverband: ’n Rentekoersverhoging van 0,5 persentasiepunt beteken dat jy R331,26 per maand méér sal betaal op ’n 20-jaar-verband van R1 miljoen as jy die prima rentekoers betaal. As jou huisverband R2 miljoen is, sal jy dus R662,52 meer in jou begroting moet vind.

Motorpaaiement: Jy sal R24,61 méér per maand betaal vir elke R100 000 wat jy vir jou motor geleen het en oor vyf jaar (60 maande) afbetaal. Dus, as jy ’n motor van R300 000 ry, sal jy R73,83 meer moet opdok.

Die hoop is dat die rentekoersverhoging op lang termyn goed vir verbruikers sal wees deurdat dit die weghol-rand in toom hou en dus só inflasie (die styging van pryse) afdruk.

Seeff sê die koersverhoging gaan die eiendomsmark hard tref omdat kopers alles moontlik sal doen om pryse af te druk. Boonop sal banke hul leningskriteria strenger maak, soos om groter deposito’s te vereis., wat dit vir nuwelingkopers moeiliker sal maak.

Richard Mahoney, WesBank se hoof van handelsmerk en kommunikasie, sê die verhoging op motorpaaiemente is dalk net R20 of R30, maar die uitwerking van ’n reeks rentekoersverhogings sal hulle laat geld. Die afgelope twee jaar het rentekoerse nou al met 2,25 persentasiepunte gestyg, wat neerkom op R290 op ’n motorlening van R250 000 wat oor 72 maande afbetaal word teen ’n rentekoers van prima plus 1,5 persentasiepunt.

“Dis ’n uitstekende voorbeeld van waarom ons ’n beroep op verbruikers doen om ’n bietjie vet in hul motorkoop-begroting in te bou.”

Trek gordel styf

Ian Wason van die skulderaders DebtBusters, sê gegewe nóg rentekoersverhogings wat kom, moet Suid-Afrikaners glad nie nou nog skuld maak nie. “Almal moet hul gordel stywer trek en so veel as moontlik aan hul skuld afbetaal.”

“VERMINDER BESTEDING, HOU SKULD IN TOOM EN SPAAR MEER – SO MOEILIK SOOS WAT DIT OOK IS.” – John Loos

John Loos, FNB se eiendom- en verbruikerstrateeg, sê die rentekoersverhoging sal help om makro-ekonomiese wanbalanse te herstel en sal ook plaaslike spaarvlakke verbeter.

Huishoudings sal nou noodgedwonge minder skuld maak.

Die hoër koerse sal ook keer dat ’n irrasionele prysborrel in die huismark ontstaan.

“Verminder besteding, hou skuld in toom en spaar meer – so moeilik soos wat dit ook is – is ons raad aan baie mense, ongeag of rentekoerse verder styg of nié,” sê Loos.

Mense wat wel huis koop, moet eerder ’n goedkoper huis koop met die wete dat rentekoerse verder gaan styg, sê Loos.

Die stygende rentekoers is nie die enigste kommer vir Jan of San Alleman in 2016 nie.

Belastingkenners van Deloitte voorspel dat Pravin Gordhan, minister van finansies, na verwagting ook nog ’n styging in persoonlike belasting gaan aankondig in sy begroting op 24 Februarie.

Om sake nog erger te maak, het Eskom aansoek gedoen om die prys van elektrisiteit verder te verhoog. Kenners voorspel dat die uiteindelike verhoging tot 17% kan wees.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, waarsku ook dat ongeag die laer Brent-ruolieprys die swak rand waarskynlik gaan bydra tot ’n 7c-styging in die petrolprys in Februarie.

Wenke

Neil Roets, uitvoerende hoof van die skuldberadingsfirma Debt Rescue, het die volgende wenke:

1. Die noodsaaklik dat jy ’n begroting optrek en daarby hou.

2. Leef binne jou vermoë.

3. Spaar so veel as moontlik.

4. Koop kontant. Moenie skuld maak vir daaglikse benodigdhede nie. Gebruik skuld slegs om duur bates soos eiendom en voertuie te koop.

5. Skep ’n noodfonds vir onvoorsiene en voorsiene groot uitgawes, soos die versiening van jou motor of ’n gesondheidskrisis.

6. Onderskei tussen wat jy wil hê en wat jy moet hê – moenie probeer meeding met die bure nie.

7. Gaan sien jou bank of ander kredietverskaffer sodra jy begin vasbrand.

8. As dit nie genoeg is nie, gaan sien ’n skuldberader. Dit sal keer dat jy vir agterstallige skuld vervolg word.

Need immediate financial help?

Thank you!

We look forward to the opportunity to get you debt-free!

Subscribe to Our Weekly Email