-->

Selfs al daal inflasiekoers, styg die kospryse steeds

Die prys van ’n bruinbrood het in die afgelope twee weke met 30% gestyg en aartappels is nou 17,8% duurder as 14 dae gelede. Dit blyk uit Rapport se tweeweeklikse opname van kospryse by supermarkte.

Pieter van Zyl van Aartappels SA sê die aartappelvoorraad is laag.

“Daar is net te min aartappels. Die opbrengste is te laag en dit bring mee dat die prys hoër raak.”

Dit sal egter beter gaan wanneer die voorraad voor die wintermaande aangevul word, sê hy.

’n Kilogram mielies het egter dramaties (33,3%) goedkoper geraak.

Volgens Clive Garrett van die tamatieprodusent ZZ2 het die droogte nog nie hul oeste geraak nie, maar as die droogte voortduur, kan dit wel kleiner oeste meebring.

Kos sal vanjaar in die algemeen na verwagting soveel soos 11% duurder word, sê Neil Roets van Debt Rescue.

“Die prysstygings kan lei tot ­hongersnood onder die armstes,” sê Roets.

Volgens Ina Wilken van die Nasionale Verbruikersforum moet daar gevra word of die droogte werklik die enigste skuldige is.

“Ek verstaan die droogte in Suid-Afrika het almal hard getref, maar ek het nie gedink die pryse sal so skielik styg nie. Ek het verwag dit sou later in die jaar styg,” sê Wilken.

Volgens Paul Joubert, ’n senior navorser by Solidariteit, styg die kospryse al sedert 2008.

“Die pryse volg ’n patroon, en die skerpste styging was in 2009.”

Joubert sê as die inflasiekoers styg, styg die kospryse vinniger, maar laer inflasie beteken nie dat die pryse daal nie. Dit styg net stadiger.

Volgens Statistieke Suid-Afrika se inligting het veral die prys van koffie die afgelope sewe jaar skerp toegeneem.

Need immediate financial help?

Thank you!

We look forward to the opportunity to get you debt-free!

Subscribe to Our Weekly Email